16/02/2021
Eerste keer in SA se Regs Geskiedenis wat n hond n Boerboel genoem word...toe nou nie so vriendelike huishond tipe nie ne...
OU BLOUBAARD
As jy van die pad na Calitzdorp afdraai en jy hou regdeur Volmoed en Perdebont tot aan die bolope van die Gouritsrivier, 'n goeie 40 outydse myl van Oudtshoorn af, kom jy uiteindelik by die plaas Slangrivier. Rondom die 1830’s was dit ‘n reusagtige en afgeleë stuk grond – dit is inderdaad vandag nog afgeleë. Dié plaas behoort aan ene Swanepoel, ‘n vreedsame en Godvresende boer. Met ‘n seun wat van sy geboortedag af ‘n probleemkind was.
Hierdie Gerrit Swanepoel sou in later jare so ‘n moeilike kind word, dat sy eie ouers in vrees vir sy woedebuie en geweld leef. Daar word vertel dat sy pa by geleentheid ‘n plaaswerker in ‘n doodskis op die solder moes versteek om te verhoed dat Gert die arme man met ‘n ketting doodslaan.
Gert Swanepoel is in 1816 gebore. In die jaar van die Groot Trek, 1834, trou hy met ‘n vrou van die Gourits – sommige mense sê haar naam was Betta, ander praat van ou Anna. Hoe dit ookal sy, ou Betta (kom ons noem haar maar so) was niks beter as Gert nie. As ‘n huweliksgeskenk gee ou Swanepoel ‘n stuk van die plaas vir die twee, wat hulle laat afsny en “Rietfontein” noem. Hier bou ou Gert ‘n eenvoudige opstal van rousteen en klip, waarvan die murasies vandag nog sigbaar is. Dis ‘n Kannalandse plaashuis met ‘n breë stoep. Sodra jy by die voordeur inkom is jy in die voorhuis met ‘n slaapkamer aan die regterhand en een wat weer na agter uit die eerste slaapkamer loop. Aan die linkerhand is die kombuis. "En reg agter die huis bou Gert ‘n hok waarin hy ses wreedaardige, wilde Boerboele aanhou."
Gert Swanepoel se eerste botsing met die gereg is in 1840, toe hy ‘n plaaswerker so erg met ‘n sweep slaan, dat die man sterf. Regter Menzies verhoor Swanepoel en vonnis hom tot ‘n tronkstraf van twee jaar op Robbeneiland. Hier ontmoet hy ‘n bruinman met die naam van Stoffel Viljoen, wat eens so wreed en koelbloedig as Swanepoel is. Na die uitdien van hulle vonnisse keer Viljoen saam met Swanepoel terug na Rietfontein en nou begin die twee se skrikbewind.
Swanepoel het naamlik die gewoonte om die woord te versprei dat hy vee wil verkoop. Veespekulante klop op Rietfontein aan, en word nooit weer gesien nie. En die stories loop dik oor die wreedhede wat op die plaas aangaan.
Teen 1846 is Swanepoel weer in die hof. Hy het ‘n Griekwa, ene Jan Heskwa, in die rug geskiet, maar Heskwa was nie dood nie en Swanepoel het hom aangesê om op sy knieë te gaan en te bid. Terwyl Heskwa smekend om genade op sy knieë staan, verbrysel Swanepoel sy kop met ‘n klip. Die probleem is: Niemand sien kans om teen Swanepoel te getuig nie, en hy word vrygelaat weens ‘n gebrek aan bewyse.
Hiervandaan het Swanepoel se waansin van dag tot dag toegeneem. Stories doen die rondte dat veespekulante kontant sou betaal vir beeste wat hulle gekoop het, en wanneer hulle die beeste van die plaas af jaag, laat Swanepoel die boerboele los. Die honde verskeur die mense en dan sleep Swanepoel hulle na die stoep waar ‘n plat klip en ‘n byl altyd gereed gestaan het. Hier word die genadehou toegedien en daarna moet Stoffel Viljoen van die liggame ontslae raak – normaalweg met ‘n klip om die lyf gebind en gegooi in een van die diep waterpoele teen die berghang.
Ou Betta voer haar eie skrikbewind. Sy was kortgebakerd en humeurig en het sonder skroom ‘n huishulp met ‘n beker kookwater gegooi. Selfs eenkeer, so word vertel, die kleine baba van ‘n huiswerker wat knieserig was, van die stomme vrou se rug gegryp en in die bakoond gestop!
Teen 1850 loop die gerugte oor Swanepoel wyd in die Klein Karoo. En in daardie jaar kom dr Dunn op Rietfontein aan. Dunn was ‘n “remittance man” – een van daardie Engelse uit ‘n gesiene familie wat iewers aangejaag het en toe deur sy familie na die Kolonies gestuur is om hulle van ‘n verleentheid te red. Dunn het sy skamele inkomste as geneesheer aangevul deur muurskilderye te maak en dit is vir hierdie doel dat Swanepoel hom aanstel. Dunn verf skilderye teen die voorkamermure – teen die symuur ‘n klompie Boesmantekeninge, teen die agtermuur ‘n klompie perde in volle galop en teen die derde muur ‘n reusagtige, diabolies laggende gesig van Swanepoel met die woorde: Laff and grow fat! daaronder. En daarna word nooit weer ‘n oog gelê op Dunn nie, nog word ooit weer van hom gehoor.
Maar Swanepoel se tyd raak min. Aan die einde van 1855 staan Stoffel Viljoen vir die soveelste keer voor Landdros Armstrong op ‘n klag van veediefstal. Dit was sy gewoonte om vee te steel en na Rietfontein te jaag, waar ou Swanepoel hulle met sy eie brandmerk gemerk het. Maar hierdie keer is daar ‘n getuie – die veewagter, Jan Willemse, getuig. Toe die hof verdaag vir die dag is Jan Willemse nog in die getuiebank. Die volgende oggend is daar geen spoor van hom nie. Hy het oornag soos ‘n groot speld verdwyn.
Die Jan Willemse-kwessie was die einde van die storie vir Swanepoel. Willemse se houvrou, Grietjie Kraaienstein, sit te voet af dorp toe om vir veldkornet Raubenheimer te vertel hoedat Viljoen en Swanepoel van Willemse ontslae geraak het. Dit is die eerste ooggetuie van ‘n moord op Rietfontein.
Waarom Grietjie Kraaienstein teruggekeer het na Rietfontein sal ‘n mens nooit weet nie, maar ou Swanepoel wag haar in en sluit haar in ‘n hok toe wat hy met digte doringtakke bedek – sy plan is om haar van honger en dors te laat omkom. Daaroor ontstaan ‘n meningsverskil tussen hom en Stoffel Viljoen. Viljoen dring daarop aan dat Grietjie dadelik vermoor word. Uiteindelik baklei die twee so, dat Swanepoel vir Viljoen van die plaas jaag. Nou wil Viljoen sy aandeel aan die gesteelde rykdom hê, maar Swanepoel is te kwaad. Hy gee Viljoen een os as beloning – boonop ‘n os wat Viljoen self gesteel het! En dis net daar waar Viljoen afsit dorp toe om veldkornet Raubenheimer te vertel van alles wat hy weet.
Vir die eerste keer verneem Raubenheimer dat die “ongeluk” wat sy kollega, konstabel Barnard, in 1853 oorgekom het, toe hy van sy perd af geval en met sy kop teen ‘n klip beland het, nooit ‘n ongeluk was nie. Inderdaad het hy hom in Swanepoel vasgeloop, wat ‘n rukkie lank rustig met Barnard gesels het terwyl hy ongemerk sy perd se tuie losmaak. In ‘n onbewaakte oomblik bevlieg hy toe die konstabel en slaan hom dood met die stiebeuels!
Teen die laat agtermiddag sit Raubenheimer en drie konstabels af na Rietfontein. Hulle is vermom as veespekulante en op die perdekar het hulle ‘n vrag velle, waaronder hulle vuurwapens versteek is. Swanepoel ontvang hulle hartlik en nooi hulle vir ‘n beker gemmerbier. In ‘n onbewaakte oomblik bespring een van die konstabels vir Swanepoel en boei hom vas. Die ou wreedaard is egter heel gewillig om saam te werk en vra toestemming om net sy baadjie te gaan aantrek. Ook maar goed dat Raubenheimer saamstap, want teen die binnemuur van die slaapkamer staan vier gewere, oorgehaal en gelaai. Swanepoel was al van plan om hulle te vermoor toe hy hulle nog maar sien aankom het!
In Februarie van 1856 verskyn Gert Johannes Swanepoel, 40 jaar oud, voor die rondgaande hof op George. Die enigste klagte teen hom is die moord op Jan Willemse, met Grietjie Kraaienstein en Stoffel Viljoen as die staat se belangrikste getuies. Swanepoel word aangehou in die kelder van die Drostdy – vandag George se museum. Die stel voetboeie waarin hy aangehou is, is vandag nog te sien in die CP Nel Museum op Oudtshoorn.
Uiteindelik kom die uitspraak. Regter Cloete is oortuig van Swanepoel se skuld. Voor die hof het getuienis gedien dat hy tussen 40 en 50 mense vermoor het oor die voorafgaande 15 jaar. Op die 28e April 1856 word Swanepoel die laaste mens in die Suid-Kaap wat in die die openbaar tereg gestel word. Die galg staan op die hoek van Yorkstraat en Palgravestraat op George.
Van Rietfontein af ry ou Betta met ‘n perdewa en ‘n wakis vol ponde. Sy smeek by regter Cloete om vir hom met ‘n sopkommetjie van die ponde te skep so veel as hy wil, solank hy net ou Gert vrylaat. Maar die regter ignoreer haar pleitdooie. Ou Betta sit op haar verewa en wag tot die teregstelling klaar is, waarna sy die lyk van Swanepoel op die wa laai en op Rietfontein gaan begrawe in ‘n praalgraf nie ver van die huis af nie. Hier sou sy ook later langs hom begrawe word. Die oorblyfsels van die graf en die huisie staan vandag nog daar. Toe ek dit in 2003 besoek het, kon ons daar naby kom nie omdat ‘n boosaardige bruinkapel in die bosse rondom die grafte hou. Ek kon egter ‘n paar foto’s neem, wat ek eers sal moet soek voordat ek dit met julle kan deel. Daar bestaan ook ‘n foto van ou Swanepoel saam met sy klein seuntjie – ‘n bonkige ou man met wrede oë en ‘n welige swart baard. Selfs in 2003 nog was daar baie vae oorblyfsels van dr Dunn se skilderye teen die rouklei pleistering van die voorhuismuur.
Maar die storie van Swanepoel hou nie daar op nie. Jare na sy dood stap ‘n polisiebeampte wat ‘n klag van veediefstal ondersoek ‘n ent van die werf van Rietfontein af deur ‘n groentetuin. Eenkant groei ‘n boontjierank. Toe hy buk en dit uittrek, vind hy dat die wortels van die boontjierank verstrengel is in die slot van ‘n ou geweer – die wapen waarmee Swanepoel destyds vir Jan Heskwa geskiet het!
Die goue sakhorlosie en viool van dr Dunn is ook in Swanepoel se huis gevind. Nadat ou Betta die plaas op ‘n veiling verkoop en na Slangrivier getrek het, het net die legendes oor Swanepoel oorgebly. Totdat die viool in die 1880’s weer sy verskyning maak – hierdie keer in besit van oom Koot Botha, die bekende togryer. Sy seun is getroud met ‘n kleindogter van veldkornet Koos Raubenheimer, die man wat ou Swanepoel destyds vasgetrek het. En een van oom Koot se ander seuns is getroud met ou Swanepoel se jongste dogter. Op dié manier beland die viool in besit van die Raubenheimer familie en die goue sakhorlosie in besit van die Bothas – en kom die horlosie wat ou Swanepoel gesteel het op wettige wyse in besit van sy kleinseun en naamgenoot!