04/12/2025
Week 50 Riyadh
Oor 2 weke is ons tuis vir 'n heerlike vakansie saam met ons kinders en kleinkinders!!! Kan nie meer wag nie!
Na 'n rustige naweek het die week met 'n BANG begin vir Jan met geweldige uitdagings by die werk en besoeke en ek met nuwe fisioterapeut wat meer en ander oefeninge uit deel!
Ek moes afskeid neem van liefste Shaden wat my ongelooflik baie gehelp het en eintlik my die wa deur die drif help trek het maar ons het afgespreek dat ons kontak sal behou.
Sy het vir my gesê :"When you walk onto the beach when you're back in South Africa, you must think of me and take me with you there!" Hoe lief is dit nie! Ek sê toe vir haar dat ek foto's gaan neem en vir haar stuur💗
Toe kom Ruba!
So 'n klein bietjie ouer dame, ook Arabies, maar toe sy hoor ek is van SA vertel sy trots dat hul 2 jaar gelede getroud is en in Knysna gaan honeymoon hou het!
En verlede jaar was hulle weer in Hermanus! "We love South Africa and would love to live there" sê sy nogal vir my.
So bereik mens ander se harte hier in die vreemde en hulle my hart!
So tussen die harde werk om my voet beter te maak deur!
Ek vermoed my fisio sessies is amper klaar maar ek sal vra vir 'n program waarmee ek kan volhou want my voet is maar nog styf met sekere oefeninge. Die dokter het vir 6 weke 2X per week aanbeveel so ons is amper daar!
Intussen beland ons tuinman, wel instaan tuinman Sadam Hoesein uit Indië, in die hospitaal hierdie week. Al wat ek uit hom kon kry was "very much pain" en foto's wat wys waar hy lê met suurstof masker op en drip in sy hand. Ons het geen nommer van hom nie maar deur die ontvangs vra ek of hy ok is en hulle bevestig hy is baie beter. 🙏
Taal is en bly hier met al die werkers 'n uitdaging want Engels is gebroke indien enige.
Weereens is daar 'n verskuiwing van my afspraak dag by die instap kliniek met my sjirurg!
Skielik is hy nie meer Sondag 7 Desember daar nie maar wel Woensdag 10 Desember. Gelukkig kon ek opvolg met die suster in beheer daar anders het ons Sondag daar gekom voor dooie mans deur!
Ek kry ook geen terugvoer van hom oor die spesifieke Joya "sneakers" wat ek moet koop nie so ek gaan maar volgens my gemak van my voet kies.
Joppie vir komende naweek, sommer more oggend vroeg terwyl meeste in die moskees is en verkeer heerlik rustig. Hoop die winkel het genoeg voorraad om van te kies🤞
Vanoggend wakker geword met erge mis hier so defnitief het die Winter seisoen hier aangebreek! Nogsteeds 24 grade in die dag maar ek kan salig al die deure en vensters oop maak vir vars lug sonder stof winde wat waai👏
Ons hoor julle in SA verspoel so nou en dan en begin al muf van al die reën maar ons mis dit ongelooflik baie, veral die gedreun van die weer wat waarsku dit is op pad!
Bly veilig en droog almal!
Liefdegroete van ons 2 hier uit Riyadh, Saudi Arabië 💞