09/01/2025
Geleen: Google
Heuning-mosterd hoender
Heuning-mosterd hoender. In sy eenvoudigste vorm is dit net mosterd en heuning met ’n titsel olie en ’n stewige knip sout. Gooi dit oor die hoender, gooi dit in die oond en loop doen ander, belangriker dinge. Soos miskien jou naels.
Ek wou dié dis bietjie optof, dus draai ek elke hoenderborsie toe in spek. En ek gooi roosmaryn, heelwat tiemie, knoffel en rooiuie ook by. Omdat ek ’n paar in die yskas gehad het, sit ek hier aan die einde van die kook ook ’n paar van daai laatsomer pers vye by. Maar dis nie regtig nodig nie.
Bedien hierdie heuning-mosterd hoender met ’n eenvoudige groenslaai van komkommer linte en blare met bietjie byt, soos roket en bronkors (watercress). As jy stysel soek, hou dinge maklik en kook ’n paar baba aartappels in hulle skilletjies. Dit of ’n mengsel bruin en wilde rys (Tastic maak een). Die neuterige smaak daarvan pas heel goed by die heuning-mosterd sous.
Al wat jy nodig het is…
4 hoenderborsies
4 repe spek (laat eenvoudig uit as jy nie spek eet nie)
sout en growwe swartpeper
1 rooiui, geskil en in kwarte gesny
6 takkies vars tiemie
2 takkies vars roosmaryn
3 knoffelhuisies, in hulle skilletjies
3E korrelmosterd (ek gebruik net Maille s’n)
3E heuning
¼t sout
1E olie
½t rooi- of witwyn asyn
2E water
2 pers vye, in helftes of kwarte gesny (opsioneel)
Bedek elke hoenderborsie met ’n reep spek. Sit die hoenderborsies in ’n oondvaste bak en geur met sout en swartpeper. Voeg die uie, kruie en knoffelhuisies by. Meng die mosterd, heuning, kwart teelepel sout, olie, asyn en water. Gooi oor die hoender en bak teen 175 grade Celsius tot gaar (40-50 minute). As jy die vye gebruik, voeg hulle vir die laaste vyf minute by. As die hoender en spek nie bruin en bros genoeg na jou smaak is nie, sit jou rooster vir ’n paar minute aan heel aan die einde. Hierdie resep bedien twee. Om ’n gesin van vier te bedien, verdubbel eenvoudig die resep.