24/11/2025
Terwyl die reën neersak en donderslae die lug skeur, voel dit of my hart breek.
My gedagtes is by die katte daar buite… die wat skuiling soek onder hope sink en ou houtpale. Here, beskerm hulle asseblief.
Ek wens ek kon meer doen. Meer warm slaapplekkies, meer veilige hoekies, meer hande om die nood te dra. Want daar ís soveel meer om te doen—maar die hande bly min.
Ons is drie dames aan die stuur. Net vyf pleegmammas. ’n Handvol ongelooflike mense wat help met fondsinsamelings funksies, versorging en kuier by die kathuis. En dan… die kos, versorging, sterilisasies, die siekes, die kleintjies… dit bly ’n enorme taak vir net twee of drie mense wat werklik buite kan gaan help.
Soms voel dit oorweldigend.
Soms voel dit of die wêreld te groot en ons te klein is.
Maar dan onthou ek: Ons doen wát ons kan, met ál wat ons het.
En elke bak kos, elke veilige skuiling, elke geredde lyfie, elke gesteriliseerde mamma—dit maak ’n verskil. ’n Lewensveranderende verskil.
Ek wil graag meer doen. Vinnig doen. Groot doen.
Maar vir nou… gee ons ons beste. En ons glo dat daar nog helpers gaan opstaan. Dat meer harte gaan sag word. Dat ons nie hierdie pad alleen sal stap nie.